Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Warner Brothers
- lesers
★★★★★

“Gotham loves a comeback story.”

Ons ook.

Regisseur Matt Reeves (Let Me In, War for the Planet of the Apes) bring ’n ryk, donker visie na die skerm in die nuwe film oor die DC-strokiesprentheld.

In hierdie avontuur word Batman (Robert Pattinson) deur die krimineel, die Riddler (Paul Dano) met ’n reeks raaisels gekonfronteer. Hy moet die raaisels oplos om die Riddler se wrede plan vir die stad Gotham te keer.

’n Klankbaan deur Michael Giacchino (Up, Spiderman: No Way Home) wat jou skrikwekkend triomfant sal laat ril, dien ook as emosionele gids in hierdie spannende roltreinrit van ’n film. Ek dink dit verdien ’n 2023-Oscar-nominasie. Getekstureerde snitte soos Can’t Fight City Halloween en It’s Raining Vengeance kan ’n mens oor en oor ná jy die film gekyk het, luister as jy ’n onheilspellende viool op ’n reënerige dag geniet.

The Batman bied treffende skote met die mooiste, mooiste beligting aan. Verwag poele rooi en blou wat op die ewig-nagtelike strate weerkaatsings maak. Verwag goue lig op kreatiewe wyses met die donker aard van The Batman gekontrasteer. Verwag ook heerlike skaduwees.

(Daar is ’n skoot só pragtig saamgesit, dat dit my werklik na my asem laat snak het.)

Robert Pattinson stel nie as Batman teleur nie. Hy en Zoë Kravitz as Catwoman het briljante chemie. Colin Farrell, Jeffrey Wright en Andy Serkis lewer ook uiters bevredigende vertolkings.

The Batman is ’n kinematografiese meesterstuk wat byna selfs Joker-vlak bereik. Die film is visueel- en storiestruktuur-gewys aangrypend en gruwelik in die beste sin.

As jy spanningsverhale, raaisels, woordspelings en asemrowende visuele aanbieding liefhet, is The Batman ’n aksiefilm wat jy definitief nie moet mis nie.

Moenie in ’n grot wegkruip nie - gaan kyk dit!