29 April 2022 was ongelukkig juffrou Susan Roelofse se laaste dag by DF. Ek het die voorreg gehad om ’n refleksie-onderhoud met haar oor haar tyd by DF te voer.
Wanneer het juffrou by DF aangesluit?
Ek het gaan kyk en dit was in 2012. Juffrou Linda Pauw het vir my genader. Ons was saam in ’n huiskerkgroep en sy het my gevra of ek nie kan kom uithelp by Afrikaans nie. Ek het toe gedink dat dit nogal lekker sal wees om na baie jare weer skool te hou. So het my verbintenis met DF in Maart 2012 begin. Nou, aan die einde van April 2022, is dit presies op die dag ’n maand en tien jaar gelede.
Ek dink nie dis toevallig nie.
Het Juffrou tevore by ander skole klas gegee?
Ja, ek het destyds as ’n groentjie hier by die universiteit uitgekom en vir twee jaar by Hoërskool Brackenfell klas gegee. Toe het die universiteit my gekontak oor my geografie-punte en gevra om aansoek te doen vir ’n pos by Geografie en Omgewingstudie. Ek het daarvoor aansoek gedoen, want dit het my toegelaat om verniet verder te studeer. Dus het ek toe by Hoërskool Brackenfell bedank.
Hoekom het juffrou by DF Malan aangesluit?
Ek dink omdat my suster in Christus vir my gevra het om te kom uithelp. Ek wou in daardie stadium dit doen en ek is ook lief vir skoolgee. Ek het gedink: “Hoekom nie?” Ek sou nooit gedink het ek ek sou so lank hier bly nie.
Wat het Juffrou van DF verwag toe Juffrou hier aangesluit het?
Ek het nie eintlik verwagtings gehad nie, want ek het net gekom om uit te help. Ek het vir meneer Pepler kom aflos. Dit was ’n hele kwartaal. My verwagting was maar net om lekker te kon skoolhou en uit te help.
Wat was van Juffrou se gunsteling-hoogtepunte by DF?
Ek het nou mooi daaroor gedink en die hoogtepunt was hierdie tien jaar in my onderwysloopbaan.
Die hoogtepunt is vir my die dankbaarheid om die geleentheid te kon kry sonder dat ek dit self beplan het - om vir tien jaar eintlik vir myself te kon uitwoed in die onderwys, wat eintlik my kinderdroom was. Toe ek klein was, wou ek ’n onderwyser word. Na my eerste twee jaar by Brackenfell en klasgee by die universiteit het ek nooit gedink om terug te gaan onderwys toe nie.
Ek het in ander plekke beland, maar my hoogtepunt is dat ek so lank al hier gebly het, want dit is wat DF aan jou doen; jy bly. Om regtig, sonder dat ek dit gaan soek het, weer die geleentheid te kon kry om daardie kinderdroom van my by ’n skool soos DF te kon verwesenlik, was my hoogtepunt. Dit is vir my kosbaar. As ek nou hier wegstap, is dit waarvoor ek dankbaar is, die hele tien jaar met die mense en die groei wat ek beleef het.
Die Here se pad is nie altyd oor ’n mens se eie gemak nie, maar Hy stel meer in ons groei belang. Ek glo dat die deure wat vir ’n mens oopgemaak word, as jy naby aan die Here leef, se doel is om jou te laat groei. As jy nie daar gelukkig is nie, dan is jy nie op die plek waar jy moet wees nie.
Het Juffrou enige raad vir hoërskoolleerders om die beste van hul hoërskoolloopbaan te maak?
Ja, ek dink hulle moet altyd positief en in die oomblik van hulle lewens wees. Hulle moenie besluit die glas is half leeg nie; hy is half vol. Hulle moet van elke oomblik in hulle lewe die geleentheid gebruik om hulself te leer ken en hulle alles en beste te gee.
Dit is ook hoe ’n mens jouself leer ken, anderste mis jy uit. Jy moet in die oomblikke van jou lewe wees.
Wat beplan juffrou om nou met al Juffrou se vrye tyd te doen?
’n Mens het mos soveel drome.
Ek sȇ altyd dat wanneer ’n mens nie tyd het nie, dan wens jy daarvoor, veral in die eksamentyd. As jy besig is om te leer en jy kan niks anders as dit doen nie, dan kry jy hierdie kreatiewe energie en lus om te bak en brou asook ander goed aan te pak, maar jy kan nie. En dan as eksamen verby is, gaan doen jy ook nie al die goed waarvoor jy voor lus gekry het nie.
Ek wil nou eers net tot vryheid kom - bietjie huis skoonmaak, regpak en my lewe agter mekaar kry. Jy los baie goed eers eenkant as jy in jou werk staan. Ek wil net dit gaan uitsorteer.
Verder wil ek ook maar in die oomblik van my lewe wees en baie tyd met my eie kinders deurbring. Hulle is nou al jong volwassenes en het wat ek glo sulke venster-periode is waarin hulle nog huis toe kom. Uiteindelik gaan hulle hul eie lewens begin.
Ek wil ook so ’n bietjie saam met my man reis. Ons het ’n strandhuis in Struisbaai wat ons inrig. Ons gaan nou meer soontoe en ook vir ’n bietjie langer om die plekkie leefbaar en lekker te maak. Ek sien daarna ook uit. My ouers rus nou in hul tagtigs. Hulle tree nou af en het ’n klein woning gekoop. Ek wil hulle ook vir ’n tyd daar gaan help om op te pak en reg te maak en te help met die oorgang na meer versorging nader aan ons.
Het Juffrou ook enige raad aan voornemende onderwysers of nuwe onderwysers?
Sjoe, dit is baie harde werk. ’n Mens se administrasie moet baie goed wees, asook ’n mens se beplanning. Neem dit een dag op ’n slag. Moenie te ver vooruit dink nie, maar sien die groot prentjie. Werk saam met jou span en vra vrae. Luister mooi na wat die ervaringe is; dit kan jou baie tyd spaar en baie laat leer.
As Juffrou nou terugkyk, is daar enige iets wat Juffrou dalk sou wou verander (of dit nou by DF was of te doen met Juffrou se beroepskeuse)?
Wat sou ek wou verander? Weet jy, wat my onderwys betref, dit sou baie lekker gewees het as ek vroeër by DF kon aansluit.
Maar andersins wil ek eintlik niks verander nie, want al die kosbare mense wat ek elders ontmoet het, en die oomblikke wat ek daar beleef het, wil ek nie verloor nie. Ek laat dit in die Here se hande. Miskien sou ek wens vir meer wysheid as ek dit kon verander het.
Wat sal Juffrou wil hê die leerders moet dink as hulle aan Juffou dink? Hoe wil Juffrou graag by DF onthou word?
Eerstens, dat ek omgee en dat ek my beste vir hulle gegee het. Dat ek ook tegemoedkomend is, verstaan en self ook foute maak. Dat hulle my sal onthou as ’n onderwyser wat regtig moeite gedoen het om my beste vir hulle te gee. Dat ek hulle kon inspireer. Om ook vir hulle te help, op my manier, om te leer. Dat ek toeganklik was en dat ek aan hulle en hul ervarings gedink het.
Wat gaan Juffrou die meeste van DF mis?
Ek gaan beslis die kinders en die mense die meeste mis! Daardie gang van die jaar waar die nuwe kinders kom - wie is die nuwe kinders? Jy ontmoet elke keer `n nuwe klomp mense.
Ja, daar is spanning in die stryd om mekaar te leer ken, verstaan en om as ’n klas te “_gel”, maar dan is dit ook bevredigend hoe mense nader aan mekaar beweeg en mekaar leer vertrou en om in mekaar se harte te klim._
Hoe jy ’n verskil kan maak.
Hoe ’n leerder na jou kom en regtig met jou deel dat jy ’n verskil gemaak het.
Dit is vir my kosbaar en gee soveel waarde tot ’n mens se lewe. Jy voel waardevol as jy vir iemand iets kan gee.
So nou, ewe skielik, is hier ses klasse met kinders wat ek nie meer kan leer ken nie. Ek dink ek gaan dit mis; van myself gee, dít wat ek voorberei het, en dít waaroor ek opgewonde is.
Dit is die suur daarvan om nou tot siens te sȇ.
Het Juffrou enige iets wat Juffrou wil bylas - enige boodskap vir Die Herout se lesers?
Wat ek net nou weereens besef, is dat tyd baie kosbaar is. Tyd is iets wat ’n mens nie terug kan koop nie. Wanneer jy in die oomblik is, moet jy die beste daarvan maak, want jy weet nie wat ná dit kom en waneer dit eindig nie. Ek sou nooit kon dink dat hierdie dag sou kom nie. Die Here het dit so gewil dat ek nou moet gaan.
Spyt kom altyd te laat, maar ek is oor niks spyt nie, want ek het altyd my beste gegee en was meelewend. Tyd is so kosbaar en mens moet kies om dit positief te spandeer en in die oomblik te leef.
Baie dankie dat Juffrou tyd gemaak het om die vrae te beantwoord. Alhoewel Juffrou nie meer by DF skool gee nie, gaan DF beslis Juffrou mis en onthou.