Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Nika Armfield
- lesers

Die ontdekking van die gloeilamp in 1879 is as een van die merkwaardigste tegnologiese mylpale ooit beskou. Daar is baie voordele aan die beskikbaarheid van lig. Mense se lewens word nie meer onderbreek wanneer dit buite donker word nie.

Maar is daar iets soos te veel lig?

Ons almal het sekerlik al satellietfoto’s van die Aarde gesien. Vanaf die ruimte is miljoene liggies op Aarde sigbaar. Alhoewel die liggies ’n pragtige gesig is, het dit nie sulke mooi gevolge nie.

Ligbesoedeling is wanneer ’n oormaat kunsmatige lig die nag van sy natuurlike donkerte ontneem. Die lig van stede en woonbuurte laat ’n gloed van lig in die nag. Dit maak dit moeilik om die sterre in die aande te sien. Ligbesoedeling het ook ’n ernstige gevolg vir ons biodiversiteit.

Voëls het natuurlike instinkte wat vir hulle sê wanneer dit tyd is om te broei, kos te versamel en migreer. Kunsmatige lig versteur egter hierdie interne tydaanwysers en beïnvloed voëls se migrasiepatrone. Voëls wat tydens die aand migreer, raak soms verdwaal omdat hulle hul koers deur mensgemaakte ligte verloor.

Seeskilpaaie word ook deur kunsmatige lig beïnvloed. Helder ligte maak dit moeilik vir skilpaaie om ’n stil en donker strand te vind waar hulle hul eiers kan lê.

Pasgebore skilpaaie word deur ligte op land gedisoriënteer. Wetenskaplikes glo dat babaskilpaaie hul pad see toe vind deur die helder lig van die maan wat op die see reflekteer, te volg. Kunsmatige ligte op land is egter helderder en veroorsaak dat skilpaaie nie hul weg see toe kan vind nie.

Die ligbesoedeling laat die vuurvliegies SOS flikker. Lig is belangrik vir vuurvliegies se oorlewing, maar kunsmatige lig is ’n groot bedreiging. Vuurvliegies flikker hul liggies as ’n paringsroep om ’n maat te vind. Kunsmatige lig versteur egter sekere vuurvliegiespesies se paringsproses. Dit veroorsaak dat minder vuurvliegies paar en die bevolking afneem.

Ons almal gebruik lig en dis byna onmoontlik om heeltemal daarsonder klaar te kom. Dit is egter moontlik om minder lig te gebruik. Hier is ’n paar wenke:

· Installeer buiteligte met ’n beweging-sensor of tydskakelaar sodat die lig slegs brand wanneer iemand daar is om dit te gebruik.

· Gebruik LED-ligte aangesien dit beter vir die omgewing is.

· Skakel so veel moontlik ligte af.

Stadsliggies is ’n pragtige gesig, maar verbeel jou al daardie liggies word afgeskakel. ’n Asemrowende sterrehemel sal dan op ons wag!