Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Searchlight Pictures
- lesers
★★★★★

Ek het onlangs The French Dispatch of the Liberty, Kansas Evening Sun by die Labia-teater in Gardens gekyk.

Je t’aime, Wes Anderson. Je t’aime, The French Dispatch.

The French Dispatch is deur Wes Anderson, regisseur, skrywer en vervaardiger, beskryf as ’n “liefdesbrief aan joernaliste” en lei kykers deur ’n reeks verhale wat hul verskyning in die fiksionele koerant gemaak het. Die film volg joernaliste se perswaardige ervarings in die Franse stad Ennui-sur-Blasé.

Hierdie omnibus-film bevat al die visuele lekkernye wat ’n mens van ’n Wes Anderson-film kan verwag: heerlike simmetrie, helder kleurpalette wat met swart-en-wit afgewissel word en bydra tot die groot verskeidenheid van die film se stelle en scenario’s, hoofstukverdelings tussen tonele, treffende kostumering en kreatiewe skote wat elkeen kunswerke in hul eie reg is.

The French Dispatch is een van daardie films waarin alles en niks terselfder- tyd gebeur, wat dit in daardie sin effens soos die lewe laat voel - ironies, aangesien die film se surrealistiese atmosfeer die perfekte ontvlugting van realiteit bied (veral verbasend as ’n mens hoor dat die film deur werklike gebeure geïnspireer is). Die pittige storievertelling en die akteurs se vermoëns om die gehoor se aandag in ’n stywe greep te hou, sal die kyker in vervoering bring.

Verwag roerende vertonings van, onder andere, Bill Murray, Owen Wilson, Benicio del Toro, Timothée Chalamet, Léa Seydoux, Frances McDormand, Jeffrey Wright, Willem Dafoe, Adrien Brody en Lyna Khoudri.

Alhowel The French Dispatch iets splinternuut is, het dit steeds daardie element wat ons keer op keer in Anderson se werke sien: die balans tussen humor en melankolie wat ’n kyker peinsend en verfris laat voel.

Die dinamiese klankbaan deur Alexandre Desplat (ek sit tans hier en luister weer daarna), kostuums deur Milena Cononera en lewendige dialoog vang die nostalgie van Frankryk in die 1960’s vas.

As jy ’n aanhanger van Anderson se vorige werke (soos The Grand Budapest Hotel, The Fantastic Mr Fox, Moonrise Kingdom en The Royal Tenenbaums) is, sal jy definitief The French Dispatch geniet. Ek beveel dit ook vir enige liefhebber van kunstige films aan.

Kyk dit. Kyk dit.