Suid-Afrika het geen tekort aan spookstories nie. Van dwaalgeeste in die Karoo tot vreemde gedaantes wat hotelle teister, is daar altyd ’n verhaal of twee. Die meeste mense sal stry oor die betroubaarheid van die vergesogte verhale, maar dalk bevat dit ’n tikkie waarheid?
Drie mans genaamd Lutterodt, Seurrier van Conradersfontein en Anthony de Heer het gedurende November 1887 vanaf Ceres tot Beaufort-Wes gereis. Diep in die spokeveld gedurende ’n donker Karoo-nag is die stilte deur die geraas van ’n ossewa verbreek, alhoewel die drie alleen op die pad was. Skielik sien hulle veertien osse met leë oogkasse wat padlangs struikel, terwyl hul besete drywer vervaard die leisels vasklou. Verstrooid vra Lutterrodt waarheen hy op pad is. Die man skree in ’n hees stem: “Hel toe! Hel toe!”
Die spookagtige verhaal is in Alfred Ellis se South African Sketches gedokumenteer nadat die mans hul ontmoeting met die ossewa-spook aan hom oorgedra het.
Gedurende die donker middernag in die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein, kan ’n gekibbel tussen twee vrouens gehoor word. Hul skril stemme, saam met die klank van breekbare voorwerpe wat aan skerwe spat, weergalm deur die gange van die hotel. Wanneer die personeel by die kamer gaan ondersoek instel, vind hulle daar geen siel nie, met al die breekware nog heel en netjies op hul plekke.
By dieselfde hotel in die heel boonste kamer in een van die torings vind ’n mens die permanente woonplek van Kate, die kaartspelende verpleegster. Sy het blykbaar dikwels met die beseerde Britse soldate gedurende die Anglo-Boere-oorlog kaart gespeel. Snags hoor gaste en personeel steeds iemand wat kaarte skommel, alhoewel niemand in die kamer is nie. ’n Verlate figuur in ’n ou verpleegstersuniform kan soms gesien word by die venster uitstaar. Een van die personeellede beweer dat Kate in die wit uniform verby haar gesweef het en spoorloos voor haar oë verdwyn het.
Die Lord Milner Hotel se deure staan vandag nog oop. Jy is welkom om ’n paar aande daar deur te bring as jy nie vir koue pampoen skrik nie.
Dié paar spookverhale, wat deur ooggetuies tot absolute waarheid verklaar is, is net ’n spikkel op die tarentaal van Suid-Afrika se spookgeskiedenis.
Glo jý in spoke?