Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Yana Mans
- lesers

Mense glo die nommer 13 kan net teëspoed bring, maar as jy in DF se kamer 13 instap, is voorspoed wat jy kan verwag.

Me. Carstens is uiters georganiseerd en sy is net so lief vir skoolgee as wat sy is vir tuinmaak. Dié formidabele ouma van twee is nie net ’n Engels-onderwyseres nie, maar sy het ook haar Honeursgraad in Afrikaans-Nederlands en B.Ed-Onderwysgraad voltooi. Boonop het sy op die ouderdom van 25 (x2) haar Meestersgraad in Onderwys begin. Sy beskryf haar onderwys-reis: “Die hardste wat ek al ooit in my hele lewe gewerk het.”

Die beroep wat sy sou wou aanpak, indien sy nie onderwys studeer het nie, is die beroep van ’n eiendomsagent. Ons praat tydens die onderhoud oor hoe goed hierdie beroep vir haar sou gewerk het. Me. Carstens het die nodige dissipline en goeie oortuigingsvaardighede.

Alhoewel sy in spanning wag vir nog ’n paar kleinkinders, geniet sy dit ook om saam met haar vriendinne vir naweke weg te gaan en om Judge Judy te kyk. Sy beskryf haarself as ’n boekverslaafde en noem dat sy nie tydens kwartale kan lees nie, anders sal sy van die werk kan vergeet, só lief is sy vir lees.

Juffrou Carstens het ook al naweke vrywillig leerders in moeilike omstandighede gehelp om vir hul matriekeindeksamen voor te berei. Haar empatie teenoor ander mense het duidelik gewys - sy kry ’n traan in haar oog toe sy hieroor praat.

Haar raad vir DF-leerders is om vir hul juffrou sjokolade te koop en, op ’n ernstiger noot, om vir hul ouers dankie te sê vir alles.

Om prettig af te sluit, is hier is twee waarhede en een vals stelling oor me. Carstens. Vind uit watter is waar en watter is vals!

  1. Sy geniet dit om te draf.
  2. Sy het ’n tatoeëermerk.
  3. Haar gunsteling-tydverdryf is om motorfiets te ry.