Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

Maak nie saak of jy Elon Musk of ’n leerder op skool is nie - elkeen van ons het al teleurstelling ervaar. Dalk het jou broer daardie laaste stuk pizza verorber voor jy daarby kon uitkom. Dalk het jou kwartaalpunt nie jou verwagting bereik nie.

Die wêreld stel teleur.

Maar ’n groot deel van ’n teleurstelling se effek hang van jou houding af - hoe jy na die situasie kyk. Is jy ’n a) glas-halfvol- of b) glas-halfleeg-tipe mens?

Kyk jy a) na die blink kant van ’n situasie of b) verwag jy die ergste?

Dra jy a) daagliks jou rooskleurige bril of glo jy b) dat Murphy se wet altyd by jou spook?

Indien jy meer met a ooreenstem, is jy waarskynlik optimisties. Indien jy egter meer met b ooreenstem, is jy dalk ’n pessimis.

Wat is ’n pessimis?

Pessimisme word deur die Amerikaanse Sielkunde Assosiasie gedefinieer as “’n houding dat dinge verkeerd sal loop en dat dit onwaarskynlik is dat mense se wense of doelwitte vervul sal word”. ’n Pessimis kan selfs agterdogtig word as dinge goed verloop.

Die nadelige kant van pessimisme is dat dit met ’n swakker gesondheid en welstand geassosieer kan word. Pessimistiese mense is geneig om meer isolasie en stres in hulle alledaagse lewens te ervaar. Nog ’n kommerwekkende komponent van pessimisme is dat die individu ’n stresvolle situasie erger kan beleef as wat dit werklik is.

Wat is ’n optimis?

’n Optimis is “’n persoon met ’n geestelike ingesteldheid deur vertroue in ’n suksesvolle toekoms gekenmerk”. Optimiste is diegene wat goeie dinge sou verwag.

Optimistiese houdings word met ’n klomp voordele geassosieer, insluitend beter aanpassingsvaardighede, beter fisiese gesondheid, laer stresvlakke en hoër volharding wanneer diegene doelwitte nastrewe.

Tog kan die tipe houding ook soms handuitruk en onrealisties wees. Dan kan die individu glo dat hulle ’n positiewe resultaat kan kry, selfs al sit hulle geen werk in om dit te verdien nie.

Maar waarna moet ons dan strewe? Is pessimisme altyd sleg? Is optimisme altyd goed?

Alhoewel daar gereeld vir ons gesê word om te glimlag en na die goeie kant van ’n situasie te kyk, is dit nie altyd prakties of gesond nie. Trouens, ’n bietjie pessimisme kan nie skade doen nie. Ons oorlewing en welstand vereis ’n goeie, volhoubare balans tussen optimisme en pessimisme.

Die ideaal waarna ons almal behoort te strewe, is om ’n realistiese optimis te wees. As jy hierdie tipe houding aanvat, beteken dit dat jy hoopvol, maar steeds realisties bly. Jy glo dat dit in jou vermoë is om te slaag, maar jy weet dat dit slegs moontlik gaan wees deur noukerige beplanning, moeite en lang ure se harde werk.

Met die nuwe kwartaal wat baie vinnig op pad is, is dit die perfekte geleentheid om die realistiese optimisme in jou lewe te implementeer. Kweek vir jou hierdie houding deur ’n positiewe gesindheid met ’n realistiese beoordeling te kombineer. Probeer om nie slegs jou sukses te visualiseer nie, maar identifiseer en visualiseer ook die stappe wat jy sal moet neem om die sukses te behaal.