Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Danielle de Villiers
- lesers

John Ronald Reuel Tolkien was ’n Engelse skrywer, filoloog en universiteitsprofessor. Sy bekendste boeke, The Hobbit en die tydlose The Lord of The Rings, betower lesers steeds wêreldwyd.

Tolkien is in Bloemfontein, Suid-Afrika, op die derde Januarie 1892 as die oudste seun van Arthur en Mabel Tolkien, gebore. Toe Tolkien vier jaar oud was, het sy pa aan rumatiekkoors gesterf, en Tolkien het saam met sy ma en jonger broer na Birmingham in Engeland, getrek. Mabel het vir Tolkien en sy broer tuis geleer en hy was ’n gretige leerling. Sy grootste belangstelling was tale - Tolkien kon al op vierjarige ouderdom lees en kort daarna vlot skryf. Sy ma het sy leesgierigheid ondersteun.

Hy was maar net 12 toe sy ma in 1904 aan diabetes gesterf het. ’n Katolieke priester en familievriend het toe vir Tolkien en sy broer onder sy vlerk geneem.

Tolkien het die King Edward VI skool in Birmingham bygewoon, waar hy vele tale magtig geraak het. Hy het selfs sy eie tale vir die pret ontwikkel.

Hy en goeie vriende het in 1911 die groep “T. C. B. S.” (Tea Club, Barrovian Society) geskep, vernoem na die plek waar hulle gereeld na skool tee gedrink het. Tot in 1916 sou hulle mekaar se skryfwerk beoordeel en ondersteun. Na skool het hy in 1915 sy baccalaureus graad en in 1919 sy meestersgraad in tale en Engelse literatuur aan die Exeter Universiteit in Oxford ontvang.

Tolkien het op 22 Maart 1916 met Edith Bratt getrou. Hy was ’n Britse offisier in die Eerste Wêreldoorlog, maar het binne 6 maande loopgraafkoors opgedoen, waarna hy uit diens gestel is.

Na die oorlog het Tolkien as akademikus en universiteitslektor gewerk. In hierdie tyd het hy en Edith hul gesin van vier kinders begin. Hy het dit geniet om verhale vir sy kinders te skryf en dit is hoe die boek The Hobbit, ’n verhaal oor die avonture van Bilbo Baggins in die fantasiewêreld Middle Earth, ontstaan het. The Hobbit is in September 1937 gepubliseer en al die oorspronklike kopieë is binne weke uitverkoop. Die boek se goot sukses het Tolkien aangemoedig om ’n opvolg te skryf, wat later The Lord of The Rings sou word.

The Lord of The Rings is tussen 1937 en1949 geskryf. Met meer as 150 miljoen kopieë verkoop in ten minste 38 tale, is dit een van die gewildste boeke ooit. Die verhaal speel in ’n gedetailleerde fantasiewêreld met ryke geskiedenis en uitgebreide tale en kulture, af. Peter Jackson se epiese rolprentweergawe hiervan het Tolkien se boeke aan ’n nuwe generasie bekendgestel.

’n Televisiereeks gebaseer op The Lord of The Rings word tans deur Amazon beplan.

Na sy aftrede in 1959, het Tolkien aanhou skryf. Edith is in 1971 oorlede en Tolkien het op 2 September 1973, op die ouderdom van 81, gesterf.

Sy werke het ’n diep impak op die fantasie-genre gehad en dien steeds as inspirasie vir vele ander.