Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Aimee Hough
- lesers

Rus - die opsetlike neerlê van werk en die doelbewuste toestand van verfrissing en herstel. Klink dít nou nie heerlik nie?

Rus verryk ons lewenskwaliteit. Dit beïnvloed elke aspek van ons lewe, van fisiese instaatstelling en intellektuele bewussyn, tot emosionele stabiliteit en geestelike sekuriteit. Die gejaag van die wêreld maak dit egter moeilik om stil te raak en tyd te maak om te rus. Die gebrek aan ontspanning kan gevaarlik wees. Dit maak ons kwesbaar vir emosionele, intellektuele, fisiese, en geestelike aanvalle.

Soos ’n klomp ander mense, sukkel ek ook om tyd te maak vir ontspanning. Ek is ongeorganiseerd, dikwels onproduktief en uitgebrand. Ek is ’n skynheilige om hierdie artikel skryf: ek het geen outoriteit om raad te gee oor ’n “gesonde balans in die lewe” en “die noodsaaklikheid van slaap en roetine” wanneer ek skaars die basiese elemente daarvan kan bemeester nie.

Tog voel dit nie asof ek verdrink nie.

Dit voel meer asof ek op ’n bootjie in die middel van ’n oop oseaan dryf. Ek sukkel om uit te maak waarheen ek op pad is, maar die bedreiging van basiese noodsaaklikhede in die boot kry eerste prioriteit. My doel met hierdie artikel is om hoop te skep, te inspireer en te leer.

Rus kan fisiese, intellektuele, emosionele en sosiale vorms inhou.

Ons kan natuurlik fisies rus deur te slaap (8-10 ure per nag vir tieners is gesond). Dit is passiewe rus. Ons kan ook aktief fisies rus deur deel te neem aan kalm liggaamlike oefening soos strek of pilates.

Intellektueel rus ons dalk deur kort pouses tussen take te neem of om meer realistiese doelwitte te stel wanneer dit kom by werk, soos met die Pomodoro-tegniek, wat behels dat jy ’n taak in 25-minuut-grepe verdeel en dan na elke 25 minute ’n kort pouse neem. (Net vir interessantheid: ’n Pomodoro is ’n tamatie in Italiaans en die tegniek kry sy naam by die vrugvormige tydhouertjie wat dikwels in die kombuis gebruik word.) Hierdie tegniek is veral nuttig as jou aandag maklik afgetrek word.

Ons kan basiese, maar kreatiwe, tegnieke gebruik om sensoriese rus te verkry. Ons kan gebruik maak van die kort “tussen-in” oomblikke van die dag. ’n Mens kan die “dooie” oomblikke lewendig maak deur diep asem te haal, jou oë toe te maak en saggies jou gedagtes gerus te stel. Vermy in hierdie oomblikke jou foon.

Emosionele rus is klein bietjie moeiliker. Ons kan slegs emosioneel rus deur te streef na egtheid as mens. Ons moet braaf genoeg wees om ons gedagtes en emosies vrylik uit te druk en kommunikeer. Ons moet ook leer hoe om rasioneel te dink oor ons emosies en gevoelens en onthou dat dit, alhoewel belangrik, slegs tydelik is.

Sosiale rus en emosionele rus gaan byna hand in hand. Sosiale rus behels ook om onsself te omring met positiewe en ondersteunende invloed. Ons moet versigtig wees om onsself nie sosiaal uit te brand nie. Dis ook nodig om tyd alleen te deur te bring en te reflekteer.

Vanaf ’n Christen-perspektief het ek gevind dat ’n rusdag een keer ’n week ’n belangrike en hulpvaardige konsep is. Die rusdag se idee is dat jy wegbreek van jou alledaagse roetine en aktiwiteite.

Dit is soos die aanhaling lui: “Wysheid is om te weet wanneer om te rus, wanneer om aktief te wees, en hoeveel van elk jy nodig het.” Moenie op uitbranding wag voor jy rus nie; rus voorkom uitbranding.