Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: DALL·E 2 (OpenAI)
- lesers

Eenhonderd bergfietse is op 13 Julie aan Olefile Sekondêre Skool, in Noord-Wes geleё, geskenk.

Die graad agt- tot 11-leerders van hierdie skool het R300 000 se bergfietse ontvang. Wanneer die leerders matrikuleer, gee hulle die fietse terug aan die skool vir die toekomstige graadagts om te gebruik. Medipost Holdings en Bikes4ERP het hierdie skenking gemaak.

Ongeveer helfte van die 690 000 leerlinge wat daagliks in Noord-Wes skool toe stap, bly in plattelandse areas ver van hul skool af. Hulle neem hierdie staptog aan omdat daar ’n gebrek aan publieke vervoer is en die kostes daarvan onbetaalbaar vir baie van hierdie gesinne is. Die afstand wat hierdie leerders vyf dae per week moet aflê, maak onderrig vir sommiges ontoeganklik.

Nora Tager, die uitvoerdende direkteur van PeaceFoundation wat Bikes4ERP bedryf, sê die doel van die donasie is om skool vir hierdie leerders meer toeganklik te maak sodat hulle op gelyke been met ander leerlinge in Suid-Afrika opleiding kan ontvang. Sy voeg daarby dat skole wat voorheen fietse ontvang het,’n merkwaardige toename in leerders se gemiddelde punte (tot en met 15%) waargeneem het. Dit het die slaagsyfer tot 90% verhoog.

“Om ’n welvarende en gelyke Suid-Afrika te bereik, moet basiese opvoeding toeganklik wees,’’ sê Noel Guliwe, die hoof uitvoerende beampte van Medipost Holdings. Dié donasie help om hierdie visie in ’n realiteit te omskep deur die Olefile-leerders te motiveer en te help om hul doelwitte te realiseer.