Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Kayla de Freitas
- lesers

Daar word gesê dat ontbyt die belangrikste maaltyd van die dag is. Alhoewel ontbyt noodsaaklik is, is dit ook ’n baie lekker aanknopingspunt vir gesprekke. Hier volg ’n paar interessante en snaakse feite oor ontbyt.

Eerste indrukke is altyd blywende indrukke. Net so weet ons almal dat ontbyt die eerste-ding-in-die-oggend-ete is. Maar wie het gesê ontbyt is slegs vir die oggende? Baie mense eet selfs spek en eiers vir aandete.

Om ontbyt te eet, het eers in die 17de eeu deel van die samelewing geword. Van die eerste ontbyte het geen vleis bevat nie.

As mense die woord ontbyt hoor, dink hulle gewoonlik eerste aan spek en eiers. Daar is egter ’n groot verskeidenheid disse wat mense vir ontbytkos aansien.

In Duitsland is vars Brötchen (broodrolletjies) ’n baie belangrike deel van ontbyt. In Antieke Egipte het mense in plaas van lemoensap ’n bier gedrink. Die Chinese eet die meeste eiers vir ontbyt in die wêreld - omtrent 22 kilogram eiers per jaar! In Turkye word daar die meeste brood geëet. Daarteenoor word die meeste ontbytpappe in Marokko geëet. Switserland eet die meeste hawermout, muesli en jogurt.

Baie van ons is mal oor pannekoek, wafels of plaatkoekies met stroop en heuning (en roomys vir die soettande). Die Romeine het die eerste keer pannekoek geëet. Die Croisstant is ook nie eintlik van Franse afkoms soos baie van ons dink nie, maar tradisioneel eintlik van Oostenryk.

Van die algemeenste vrugte wat tydens ontbyt geëet word, is piesangs, gevolg deur appels. Ons eet ook nie meer ontbyt net so nie - daar is altyd iets te drinke by. Baie families word wakker met hulle oggend-koffietjie of -teetjie, terwyl die gesonder “gladde jantjie” (smoothie) meer gewild geraak het. Ontbytsappe soos lemoen- en appelsap bly ook altyd ’n wenner.

Of jy nou hou van Franse roosterbrood met heuning, of ’n lekker sjokolade muffin, ontbyt kosse bly altyd smullekker en bly keuses bied. Dit gaan ook nie meer net oor eet nie; ontbyt is vir samesyn tussen families en gesinne.

Die smullekker ontbytkosse is genoeg om elke mens se mond te laat water. Met hierdie interessante feite en liplekker geregte kyk jy dalk môre-oggend met nuwe oë na jou pap en het jy iets nuuts om vir die mense om die tafel te vertel!