Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

Die afgelope twee jaar het ons geleer dat verandering onvermydelik is, maar dat dit moontlik is om verandering op effektiewe maniere te verwerk.

Ek het verder begin dink oor verandering…

Dit is deel van ons daaglikse lewe. Al wil ons dikwels hê dinge moet net dieselfde bly omdat ons so gerieflik in ons gemaksones is, is verandering onafwendbaar. Daar is egter maniere hoe ons verandering positief kan hanteer sodat ons daardeur kan leer en groei om sodoende sterker en beter toegerus anderkant uit te kom.

Verandering kom op alle gebiede voor. Dit gebeur as ons verhuis, van vakke verander, met nuwe tegnologie werk, die skool se naam verander, iemand aan die dood afstaan of self ernstig siek word. Dit is dus geen wonder dat Heraclitus, ʼn Griekse filosoof, al in 500 v.C. gesê het dat die enigste konstante ding in die lewe verandering is nie.

Nou, as verandering dan so ʼn konstante is, wat kan ons doen om verandering makliker te hanteer?

Verstaan die feit dat om teen verandering vas te skop, normaal is.

Dit beteken nie noodwendig iemand is moeilik of onbuigsaam nie. Daar is verskeie normale fases waardeur mense gaan wanneer hulle met verandering te doen kry.

ʼn Mens gaan deur hierdie fases as ’n mens met verandering te doen kry en dit is heeltemal normaal.

Onthou dat mense verskillende persoonlikhede het en daarom verskillend op verandering reageer. Party mense hou van nuwe dinge en verandering is vir hul opwindend, terwyl ander van struktuur en voorspelbaarheid hou. Gee daarom vir mense spasie en moenie dieselfde reaksie van almal verwag nie.

Diegene wat stilbly en nie uiterlik en sigbaar teen verandering vasskop nie, is nie noodwendig dié wat die verandering ondersteun en aanvaar nie. Hulle steek dalk net hul emosies weg en skop op meer subtiele maniere teen die verandering vas. Vra dus gereeld hoe mense oor die verandering voel en gee elkeen individueel kans om daaroor te praat.

Gee genoegsame inligting oor die verandering.

Mense vrees dít wat hulle nie verstaan nie en kan dan hulle eie, ongeldige afleidings maak. Gee liewer te veel inligting as te min en verduidelik hoe die proses en die uiteinde sal lyk.

Wees eerlik.

Mense sal jou makliker vertrou as jy eerlik is oor die verandering, al is die boodskap dalk nie wat hul wil hoor nie.

Herinner mense daaraan dat hulle keuses het.

Al kan hulle self niks aan die verandering doen nie, kan hulle steeds hul reaksie daarop kies en besluit of die verandering vir hulle ʼn positiewe ervaring sal wees.

Verandering is onafwendbaar. Elke verandering bied egter ʼn geleentheid om te groei en nuwe dinge te beleef – iets om in gedagte te hou wat onnodige konflik kan voorkom.